Ek het eens gelees dat sommige mense taal gebruik om gedagtes te verskuil, maar my ondervinding is dat heelwat meer mense taal gebruik instede van gedagtes.
'n Besigheidsman se gesprek behoort deur minder en eenvoudiger reëls beheer te word as enige ander funksie van die mens. Hulle is:
Maak 'n punt.
Sê dit.
Hou op om te praat.
Om te begin praat voordat jy weet wat jy wil sê en om aan te hou praat nadat jy dit gesê het, beland 'n handelaar in 'n regsgeding of in die armhuis, en eersgenoemde is 'n kortpad na laasgenoemde. Ek onderhou 'n regsafdeling hier en dit kos my 'n klomp geld, maar dit is veronderstel om my daarvan te weerhou om in regsgedinge betrokke te raak.
Dit is in die haak om 'n gesprek te voer soos 'n Sondagskool uitstappie waar jy stop om blomme te pluk, as jy 'n meisie bel of as jy na ete met vriende gesels; maar op kantoor behoort jou sinne die kortste aftand tussen twee punte te wees. Sny die inleiding en die samevatting uit, en stop voordat jy by tweedens kom. Jy moet kort preke hou om sondaars uit te vang; en ouderlinge glo in elk geval nie dat hulle self lang preke nodig het nie. Gee die eerste woord vir dwase en die laaste woord vir vroumense. Die vleis is altyd in die middel van die toebroodjie. Natuurlik doen 'n bietjie botter aan elke kant geen skade nie as dit bedoel is vir 'n man wat van botter hou.
Onthou ook dat dit makliker is om slim te lyk as om wysheid kwyt te raak. Sê minder as die ander ou en luister meer as wat jy praat; want as jy luister, dan sê jy niks van jouself nie en jy komplimenteer die ou wat dit doen. Gee vir die meeste mans 'n goeie luisteraar en vir die meeste vrouens genoeg skryfpapier, en hulle sal vir jou alles vertel wat hulle weet. Geld praat -- nogtans het sy eienaar 'n los tong en sy opmerkings is altyd kwetsend. Armoede praat ook, maar niemand wil hoor wat dit te sê het nie.